HOE DIE NAMAKWA FILMFEES ONTSTAAN HET:


Die Namakwa Filmfees word deur Blue Zone Media aangebied en word moontlik gemaak deur die Nasionale Film and Video Stigting (NFVF). Hierdie fees is ’n inisiatief om plaaslike film- en kultuurtalent in die Namakwa-streek te vier en jongmense waardevolle opvoedkundige en kulturele ervarings te bied. Doreen Morris tree as feesdirekteur op, terwyl Noord-Kaapse filmmaker Eagan Williamson die programbestuurder is, en saam werk hulle daartoe om die eerste van sy soort filmfees in hierdie streek suksesvol aan te bied.

Doreen het vir die eerste keer met die gemeenskap van Soebatsfontein in aanraking gekom toe sy op ’n nasionale radiostasie van die dorpie gehoor het. Die mense se pleidooi om hulp het haar diep aangeraak en sy het daar en dan besluit om die afgeleë plekkie self te besoek. Geïnspireer deur die lewens van die mense en die unieke gemeenskapsgees, het sy saam met haar span besluit om ’n dokumentêre film te maak oor die indrukwekkende werk van Quinton Adams en sy Shackbuilder- organisasie, wat destyds drie huise gebou het vir hulpbehoewende gesinne in die dorp.

Deur hierdie projek het Doreen diepgaande bande met die gemeenskap gesmee en ’n sterker begeerte ontwikkel om iets groters vir Soebatsfontein en omliggende gebiede te beteken. Sy het toe begin werk aan ’n rolprentfees wat spesiaal vir hierdie gemeenskap ontwikkel is - ’n fees wat nie net vermaak sou bring nie, maar ook samehorigheid, kultuur en inspirasie bied vir oud en jonk. Hierdie visie lê aan die grondslag van die Namakwa Filmfees, ’n plek waar plaaslike stories in Afrikaans vertel word, en waar gesinne van alle ouderdomme gratis saam kan kom om vermaak te word.

Die Namakwa Filmfees is nie net ’n viering van ons plaaslike kunstenaars en rolprent industrie nie, maar ’n viering van hoop, menswaardigheid en die krag van samewerking.

DOEL:

Die Namakwa Filmfees wil mense bymekaarbring deur verhale wat herkenbaar is en mense se menswees aanspreek, te vertel. Deur gratis vertonings en egte kultuuroptredes, bevorder ons samehorigheid in hierdie pragtige gemeenskap, ondersteun ons die plaaslike ekonomie en bemagtig ons die inwoners om die fees selfstandig en volhoubaar te bestuur.

TOEKOMS:

Ons beoog om die Namakwa Filmfees ’n ligpunt in die hart van die Namakwa Nasionale Park te maak. ’n Fees wat mense van regoor die land sal aantrek, maar belangriker, ’n plek waar die gemeenskap self groei, hulle talente wys en trots kan wees op wat hulle saam bereik.

BOODSKAP VAN DIE FEES-DIREKTEUR:

Welkom by die eerste Namakwa Filmfees – ons “Sterre Onder die Sterre”. Hierdie fees is gebore uit ’n eenvoudige, maar kragtige idee: dat almal, ongeag hoe ver hul tuiste geleë is, die betowering van storievertelling op die groot skerm verdien om te beleef. Dit is ’n idee wat ons gekry het van die taai en eerbare gemeenskap van Soebatsfontein, wat in die gesig van ernstige isolasie ’n onwrikbare hoop vir hul dorp se toekoms koester.

Ons doel is om meer as net rolprente na hierdie asemrowende landskap te bring. Ons is hier om verbinding te bring. Verbinding deur saam te lag onder die uitgestrekte Karoo-lug, en verbinding deur jou eie taal, kultuur en heldeverhale op die grootskerm te sien. Hierdie is meer as ’n filmfees. Dit is ’n verklaring dat hierdie gemeenskap gesien, gehoor en waardeer word. Dit is ’n viering van die unieke gees van die Namakwaland: sy mense, sy talente en sy asemrowende skoonheid.

Hierdie geleentheid sou nie moontlik wees sonder die vrygewige ondersteuning van ons belangrikste befondsers nie (die Nasionale Film and Video Stigting (NFVF) en die Departement Sport, Kuns en Kultuur. My opregte dank ook aan die Burgemeesters en Uitvoerende Burgemeester en hul onderskeie ondersteuningspanne vir hul onwrikbare ondersteuning.

’n Spesiale woord van dank aan ons borge en vennote, die toegewyde bestuur-span — Eagan Williamson, Ilse Brand, Benita Bezuidenhout, en Madrien Monargie—wat ongelooflik hard gewerk het om dinge op die grond te laat gebeur, asook die hele implementeringspan. Laastens, my diepste dank aan die inwoners van Soebatsfontein wat hierdie inisiatief van die begin af verwelkom en dit hul eie gemaak het.

Saam verwesenlik ons ‘n droom en laat ’n vonk gloei wat vir baie jare sal brand.

Ons is opgewonde om jou by ons te verwelkom.

Met hartlike dank,

Doreen Morris

Feesdirekteur, Namakwa Filmfees